Lewensredding sy passie


Lewensredding sy passie

Praat van lewensredding en dit laat ‘n mens dadelik dink aan die wit strande aan die kus en die bruingebrande lywe met hulle rooi swemklere. Dit is beslis nie net ‘n lewensvaardigheid wat aangeleer word nie, maar ook ‘n kompeterende sport!

Die Vrystater en graad-leerder aanGrey Kollege, Pieter Delport, is soos ‘n vis in water en is pas aangewys as die nasionale kampioen in sy ouderdomsgroep in hierdie sport tydens die kampioenskappe wat in Port Elizabeth gehou is.

Pieter neem al die afgelope 4 jaar deel aan lewensredding en was die nasionale kampioen in sy ouderdomsgroep 3 uit die 4 jaar.
Hy het in 2015, 2016 en 2018 die Victor Ludorum verwerf in sy ouderdomsgroep in Suid-Afrika en was in 2017 die naaswenner. 
Vanjaar was ‘n groot hoogtepunt vir hom nadat hy die Suid-Afrikaanse rekord gebreek het in die 100m “gekombineerde item”, sowel as verskeie Vrystaatrekords laat spat het.


As ‘n 10 maande oue baba het Pieter met “learn to swim” begin swem en van daardie dag af vorm swem deel van sy alledaagse bestaan.
Volgens Pieter se pa, ook Pieter, het sy seun betrokke geraak by lewensredding omdat dit ‘n lewensvaardigheid is wat soveel voordele bied wat noodhulpvaardighede en gemeenskapsdiens insluit. 
Dit is ‘n sport wat individuele items bied sowel as items in spanverband.  Danksy swemvriende en familie is hy blootgestel aan lewensredding.

Goeie resultate kom natuurlik nie sonder harde oefening en opofferings nie.
Pieter swem daagliks 2 ure en in die seisoen fokus hy baie op sy tegniek. Hy glo in balans, toewyding, liefde vir sy sport, sowel as die herstel van sy liggaam.

Die Delports is woonagtig in Bloemfontein nadat hulle 5 jaar gelede vanaf Pretoria hierheen verhuis het.
Pieter was in Magalieskruin Laerskool tot in 2013 en daarna was hy ‘n leerder aan Grey Primêr.

Pieter se grootste droom is om die hoogste eer in lewensredding te bereik en dit is om as Protea gekies te word wat jaarliks sy land op internasionale vlak verteenwoordig.

Sharing Tools