News Archive
Spelers laat hulle nie onderkry deur teleurstellende uitslae nie

Die eerste hokkiespan van Grey het ‘n effens teleurstellende begin tot hul seisoen gehad, maar hulle het wel deur positiewe resultate bewys dat dit hulle nie sal onderkry nie.

Die Nomads-hokkietoernooi is vanaf 30 Maart 2012 tot 02 April 2012 by Selborne College in Port Elizabeth aangebied.

Op die eerste dag van die toernooi het Grey Jeppe 4-1 geklop en 1-6 teen Wynberg verloor. Op dag twee het Grey teen King Edward School (KES) 0-2 verloor, maar hulle het met hul tweede wedsryd van die dag gewys wat in hul steek. Danksy doele van Helgard Claassen en Sterling Nel het die eerstespan Hilton College, met twee doele teenoor een, geklop.

Die eerstespan het vanaf 5 April  2012 tot 9 April 2012 aan die KES-hokkietoernooi deelgeneem. Hulle het vier wedstryde gespeel waarvan hulle twee gewen en twee verloor het.

“Alhoewel ons nie die ideale begin tot die seisoen gehad het nie, kon ons wel die toernooie as wegspringblokke vir die seisoen gebruik. Met elke wedstryd leer jy meer en die band tussen die spelers word sterker”, het Helgard Claassen, eerstespan-speler, gesê.

Na die vakansie-toernooie het Grey teen Selborne, Affies en Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) in jaarlikse interskool-byeenkomste te staan gekom. Grey was ongelukkig om 2-0 teen Selborne te verloor nadat hulle nie kon afrond nie. Na die wedstryd teen Selborne het Grey se seisoen baie verbeter. Hulle het die twee volgende interskool-byeenkomste gewen en hulle is steeds onoorwonne in die Bloemfontein skoleliga.

“Die vier oorblywende interskool-byeenkomste is belangrikke wedstryde en ons sal poog om die seisoen op ‘n hoë noot te eindig”, het Helgard bygevoeg.

News Image
Posted: 25 July 2012
Return to archive